Behels jou werk dat jy ’n kind uit ’n brandende huis red, glansmense se troue beplan of passasiers veilig van die een vasteland na ’n ander vervoer?

Dan beoefen jy waarskynlik een van die mees spannings­volle beroepe in Suid-Afrika.

In ’n onlangse studie deur ­CareerCast, ’n Suid-Afrikaanse webwerf wat werksoekendes help om ’n geskikte pos te vind, is bevind beroepe in die weermag, brandweer en openbare oog het die meeste spanning.

Nagenoeg 200 beroepe is aan “stresfaktore” gemeet.

Dié faktore sluit in hoe gereeld ’n werknemer moet reis, of daar mededinging binne die organisasie is en of die werker gereeld in gevaarlike omstandighede of in die openbare oog moet werk.